.

.

Logo Intercultural Platform
[HOME] [INTRODUCTION] [LITERATURE] [GALLERY] [NEW] [PUBLISH]

Begin Back Start reading Page down Forward End Mail

Losing my religion - Clinton V. du Plessis

[Other titles in Afrikaans] [All other titles]

English version!


Saterdagaand in die ou pakhuis.

Dit lyk alles skielik so bekend vir my.
Die hande bokant die koppe, die vreemde rukkende lywe, epilepties,die dansende liggame, elkeen besig met sy eie ding. Dit is net meer rumoerig, meer energiek en die musiek is donners hard. Ek onthou waar ek dit voorheen gesien het; sondagoggende op Bop-TV, die musiek was net meer besadig, maar die mense het ook met hul hande bokant hul koppe gedans, sommige het onsamehangend geprewel en op die vloer neergeval.
Voor op die verhoog was die DJ, hy't 'n wit pak gedra, in sy regterhand was 'n mikrofoon en in sy linkerhand 'n oop Bybel.
Sy naam was Jimmy Swaggart.

Die plek wriemel vol lywe, kaal bolywe, pienk, groen, rooi gekleurde hare, koppe kaalgeskeer, seuns met ray-bans, meisies met kort rokkies, nou broeke, stywe bostukke, elkeen toegekokon in 'n wêreld van polsende drommusiek. Ek wurm deur die vloer dansendes totdat ek teen die oorkantste muur in die hoekie stelling gaan inneem.
Ek kyk teen die muur af en sien die ingang na die toilette.
Dit waar ek wil wees, besluit ek en beur 'n pad oop tot by die deur.
Ek sien hom, die dealer se kop is gewoonlik kaalgeskeer.
White dove? vra hy.
Ek knik.
Drie, wys ek met my linkerhand.
R450, sê hy en hou sy regterhand uit.
Ek neem die tablette uit sy hand en druk die geld in die verbygaan in sy bo-sak.
Ek loop by die toilet in.
'n Meisie sit op die toiletbak,die flap toegeslaan, sy suig 'n suigstokkie.
Haar lyf beweeg op maat van die musiek.
Ek gaan staan voor haar en gooi die tablette in my keel af.
Sy maak haar oë oop en glimlag, maar kyk by my verby.
Daar is 'n wasige kalmte op haar gesig.
Ek vat aan haar skouer en beduie dat ek die toilet wil gebruik.
Sy staan gewillig op en hou vir my die flap oop terwyl ek urineer.
Kom ons gaan chill-out, sê die meisie.

Ons loop by die toilet uit en sy maak 'n ander deur oop.
Lywe lê die vloer vol en die plek ruik na sweet.
Ons loop tot agter in die hoek en gaan lê ook op die vloer.
Die ligte hier is flouer, die musiek ook nie so duidelik hoorbaar nie.
Die haartjies op my arms staan stadig orent, ek kan die bloed in my are hoor pomp, ek voel dromerig en onthou die prentjies wat ek kleintyd in die kinderbybel gesien het, 'n oop blou hemel, wuifende plate groen gras, wit skape rustig aan die wei, 'n wagter met 'n staf, ek kan die gras ruik, die koel wind op my arms voel, ek staan kaal op 'n rots langs die see, die branders breek skuimend onder my, vanuit die see kom 'n helder reënboog, die kleure het ek nog nooit so helder gesien nie, die reënboog word 'n brug na die son, ek stap van die krans af en loop op die reënboog binne in die son in, die strale breek goudgeel in alle rigtings oop, ek voel 'n tinteling onder my vel.

Ons staan op en beweeg in die rigting van die tromme.
Die ligte flikker aan en af en deur die rooknewels begin ons dans.
Ons dans, ons word een groot juigende gemeente, die DJ staan op 'n verhoog, ons kyk beurtelings op na hom, in sy regterhand het hy 'n wit duif, in sy linkerhand hou hy 'n mikrofoon. Hy suig aan 'n reuse fopspeen.

Sy naam is Jimmy Swaggart.

.

Clinton V. du Plessis, PO Box 547, Cradock, 5880, Republic of South Africa.
E-mail: gatsak@eastcapenet.co.za
Fax: (+27) 48 8811164

Another Afrikaans version by Du Plessis at this site.

Read more about the writer and writing in Afrikaans on the website of Du Plessis.

Notice © 1999 IP and the author


Page up

[Intercultural Platform] [Introduction] [Literature] [Gallery] [E-mail]

Copyright © Global Vision Platform / Adriaan Boiten     e-mail: webmaster

Find your way back to the Global Vision Platform Home Page